(Click here for the original letter in English)
Hennie van Deventer het etlike jare gelede afgetree as hoof uitvoerende beampte van Koerante, Naspers, ná
‘n voortreflike vroeëre loopbaan as hoofredakteur van die invloedryke dagblad Volksblad.
As die verpersoonliking van ‘n koerantman in die waardige en klassieke sin van die woord, dwing sy gesaghebbende bydraes
tot koerante en die sosiale media steeds respek af. Reeds in sy studentedae, toe hy redakteur van die kampuskoerant was,
later ten tyde van die gewigtige posisies wat hy as koerantman beklee het en selfs tot sy aftrede as ‘n top uitvoerende
beampte in die veld, was sy skrywes oor enige onderwerp danksy sy skerp brein en uitstaande vertolkings en reaksies, nog
altyd boeiende leesstof.
Gedurende 1976/77 was hy aan die Harvard Universiteit in die VSA ‘n Nieman Fellow, wat die mees gesogte navorsingsbeurs in die
wêreld vir joernaliste is. In 1997 het hy die hoogste NASPERS-toekenning, die Phil Webermedalje (goud) ontvang, en toe hy aftree,
was hy die eerste lid uit die geledere van die Afrikaanse media wat erelidmaatskap van die vereniging “Print Media SA” ontvang het,
met dié motivering: “Hennie van Deventer se reputasie is een van groot statuur, sowel binne die plaaslike bedryf as in die
koerant-uitgewersgemeenskap wêreldwyd. Hy geniet erkenning vir sy wysheid, diplomasie en natuurlik vir sy bydrae tot die gedrukte
media in Suid-Afrika oor ‘n aansienlike aantal jare”.
Terwyl hy ten volle tweetalig is, is Hennie welbekend vir sy boeiende storievertel-vermoëns, en veral vir sy uitmuntende beheer
van die Afrikaanse taal. Hy was nie net as joernalis bekend vir hierdie uitsonderlike vermoëns nie; ook is elk van die negentien
boeke wat hy sover geskryf het, ‘n uiters vermaaklike leeservaring, met sy taalvaardigheid die kersie op die koek.
Toe die erg ongeloofwaardige boek Die seuns van Bird Island in 2018 uit die stal van Hennie se voormalige werkgewer gepubliseer
is, het hy onmiddellik en meedoënloos sy afkeuring te kenne gegee deur middel van briewe aan die redakteurs van NASPERSkoerante
en op sosiale media. Hy het ook die onttrekking van die boek aan die mark geëis.
As ‘n man van integriteit, het sy onuitputlike en oortuigende pogings van byna twee jaar ‘n aansienlike bydrae gelewer tot
NASPERS se besluit om die boek van alle platforms te onttrek.
Wat hier volg, is die chronologiese opeenvolging van Hennie se briewe en een van sy blog-inskrywings.
Brief Nr. 1 |
||||
Skrywer: |
Hennie van Deventer |
|||
Koerante |
Die Burger (DB) |
Volksblad (VB) |
Beeld (B) |
Rapport (R) |
Datums |
2018/08/10 |
2018/08/09 |
2018/08/10 |
|
Opskrifte |
VB & B: "Magnus met vergete skinderstories beswadder". |
|||
DB: "Sulke beswaddering is betreurenswaardig”. |
Brief Nr. 1
Skrywer: Hennie van Deventer
Koerante - Datums
Die Burger (DB) - 2018/08/10
Volksblad (VB) - 2018/08/09
Beeld (B) - 2018/08/10
Rapport (R)
Opskrifte
- VB & B: "Magnus met vergete skinderstories beswadder".
- DB: "Sulke beswaddering is betreurenswaardig”.
“Die opspraak oor die bewerings teen Magnus Malan in die boek ‘Die seuns van Bird Island’ duur sedert Sondagoggend. Ek het nie die boek gelees nie. Ek gaan ook nie. Ek volg die beriggewing in die nuusmedia wel getrou. Tot dusver soek ek vergeefs na een greintjie getuienis teen die oud-minister van verdediging wat nie verbeeldingryk uit losse draadjies saamgeflans is nie.
Die teatrale onderhoud met medeskrywer Chris Steyn Maandagaand op Kyknet het werklik ook geen geloofwaardigheid bygedra tot haar en die oud-speurder Mark Minnie se aanslag op die karakter van ‘n gerespekteerde man met ‘n soliede rol in die geskiedenis van Suid-Afrika nie.
Me. Steyn is hier die geleentheid gebied om oortuigingswerk te doen by onoortuigdes soos ekself. Toe verval haar vertoning in emosie en melodrama. Waar is die antwoorde op die wie, wat, waar en wanneers wat by haar as gewese joernalis ingeprent behoort te wees as noodsaaklike vrae as jou doelwit is om die waarheid te dien. Trane alleen is helaas onvoldoende.
Ek skryf as tydgenootlike joernalis met groot agting vir Magnus Malan se onkreukbaarheid van karakter. Al het ek nie altyd saamgestem met wat hy doen of se nie, het sulke verskille nie afbreuk gedoen aan my respek vir sy integriteit nie.
Vir my en andere is dit diep betreurenswaardig dat iemand van sy kaliber na sy dood so beswadder kan word op grond van vergete skinderstories wat afgestof en met nuwe stertjies as evangelie aangebied word. Sulke roekelose sluipskietery is die vlak van die sosiale media. Van ‘n gerespekteerde uitgewery soos Tafelberg verwag ‘n mens dit nie.
Me. Steyn erken self dat haar eie koerant, die Cape Times – geen vriend van die NP-regering nie! – nie haar stories wou sluk nie. Selfs ‘n koerant soos Vrye Weekblad wat nie geaarsel het om die bul by die horings te pak nie, het in alle tale geswyg, hoewel sy oud-redakteur Max du Preez, volgens eie getuienis, van gerugte in daardie trant bewus was.
Niks nuuts het in twee dekades aan die lig gekom nie. Skynbaar het die mark vir sulke sensasionele onthullings maar net ontvankliker geword.
Wat Mark Minnie betref, is min oor sy polisieloopbaan bekend. Hoe pas die mantel as ‘baaspeurder’ hom wat al in 2007 die land verlaat het en nou iewers in China klein Chinesies basiese Engels leer? Ondernemende joernaliste kan gerus oorweeg om op sy spoor te gaan loop en vir senior offisiere in die polisie en speurdiens te vra of en hoe hulle hom onthou.
So ‘n joernalistieke speurtog kan insiggewende antwoord lewer, vermoed ek.
(Oor John Wiley was die storie in politieke kringe destyds dat hy hom geskiet het omdat hy kanker gehad het. Ek het geen gronde om dit as feit aan te bied nie. Dalk kan iemand anders hom of haar gesaghebbender daaroor uitspreek.)”
ooooo00000ooooo
Brief Nr. 2 |
||||
Skrywer: |
Hennie van Deventer |
|||
Koerante |
Die Burger (DB) |
Volksblad (VB) |
Beeld (B) |
Rapport (R) |
Datums |
2018/08/16 |
2018/08/15 |
|
|
Opskrifte |
VB: “Kruisvra mnr X oor Barend-bewerings” |
|||
DB: “Mnr X het heelwat vrae om te antwoord” |
Brief Nr. 2
Skrywer: Hennie van Deventer
Koerante - Datums
Die Burger (DB) - 2018/08/16
Volksblad (VB) - 2018/08/15
Beeld (B)
Rapport (R)
Opskrifte
- VB: “Kruisvra mnr X oor Barend-bewerings”
- DB: “Mnr X het heelwat vrae om te antwoord”
“Die geheimsinnige ‘Mnr. X’ bevind hom in die gerieflike posisie dat hy eensydig sy storie kan vertel. Die verslaggeefster, Maygene de Wee, wat skynbaar die enigste een met toegang tot hom is, teken dit op; Netwerk24 en Media24 se dagblaaie (met die lofwaardige uitsondering van Beeld) publiseer dit.
Vrae word gevra oor die merkwaardige onthou ná drie dekades van die roete wat die blou Kombi (met die gordyntjies) die aand van die ‘ontvoering’ sou gery het. Die tyd het aangebreek dat me. De Wee, of iemand met ervaring van kruisondervraging, ’n kritiese gesprek met ‘Mnr. X’ voer om sy stellings te verifieer.
Onthou hy bv. die opset van die ‘huis in Tsitsikamma’ ewe haarfyn as die roete in Port Elizabeth? Waar is die huis; hoe lyk dit van binne en buite? Hoe klein of groot is die slaapkamer waarin hy die hele nag vir ’n ‘Oom’ moes vrou-vrou speel? Waar was die badkamer waar hy ewe bedagsaam toegelaat is om te gaan bad? Was dit en-suite?
Hoe vêr of naby is die gruwelhuis van die see of aan ander huise? Kan hy dit gaan uitwys? Waar is die voertuie geparkeer?
Blou Kombi’s was daardie tyd volop. Ekself het een besit (darem sonder gordyntjies!) Wat maak Mnr. X so seker dat die een waarin hy ‘ontvoer’ is en die een wat hy jare later in Militêre Intelligensie se parkeerarea opgemerk het, een en dieselfde voertuig is. Net die gordyntjies, lyk dit, want hy wat die strate en name van geboue so haarfyn onthou, het nie na die registrasienommer opgelet nie. Of het hy?
Volgens hom is ’n vuurwapen in sy sy gedruk. Jare later kon hy dit as .38 Special identifiseer. Die verskrikte seun moes dus geleentheid gehad het om dit, of wat daarvan sigbaar was, fyn te bekyk om so ’n herinnering te kon opdiep.
Wie sou die vyf mans in die kombi gewees het en die helpers wat in ’n ander voertuig by die vulstasie opgedaag het toe hy probeer het om te ontsnap? Lede van Militêre Intelligensie wat, in opdrag van die minister, vir hom seuntjies gaan vang het? Was hulle in uniform, was hulle jonk, het almal Afrikaans gepraat? Was hulle gemasker dat hy hulle nie later kon herken soos hy die Kombi en die vuurwapen herken het nie?
Hy vertel van die middagete - die lekkerste en meeste kos wat hy nog in sy lewe gesien het. ’n Mens verwonder jou aan so ’n feesmaal ná al die onbehoorlike aktiwiteite en dat die onwillige slagoffers so gesellig saam kon aansit met diegene wat hulle later as hul ‘ontvoerders’ en ‘verkragters’ sou kon uitwys.
Wie sou daardie ete berei het – ’n kok of kokke wat, soos ander betrokkenes, met blindheid geslaan was oor wat onder hul neuse aangaan?
’n Mens sou die lys vrae kon langer rek, maar is dit nodig? Dit behoort duidelik te wees dat ‘Mnr. X’ se opspraakwekkende storie nie langer vir soetkoek opgedis durf word nie. In belang van verantwoordelike joernalistiek, behoort hy met die vaaghede, onwaarskynlikhede en ongeloofwaardighede van sy storie gekonfronteer te word.
(Klik hier vir “Witelsbos” besoek deur Me de Wee en Mark Minnie)
ooooo00000ooooo
Brief Nr. 3 |
||||
Skrywer: |
Hennie van Deventer |
|||
Koerant |
Die Burger (DB) |
Volksblad (VB) |
Beeld (B) |
Rapport (R) |
Datum |
2018/10/18 |
|
|
|
Opskrif |
DB: Skielike Stilte oor Bird-Eiland |
Brief Nr. 3
Skrywer: Hennie van Deventer
Koerant - Datum
Die Burger (DB) - 2018/10/18
Volksblad (VB)
Beeld (B)
Rapport (R)
Opskrif
- DB: Skielike Stilte oor Bird-Eiland
“Twee maande het verstryk sedert die Bird-eiland-bohaai losgebars het. So eensklaps soos dit op die nasionale agenda verskyn het, het dit in die sand doodgeloop. Is ons wyser as wat ons was?
Klaarblyklik ‘nee’. Van die ‘nog onthullings’ wat telkemale uit soveel monde belowe is (onder andere deur die uitgewer, Tafelberg en die medeskrywer, Chris Steyn) het daar dadels van gekom.
Geen, maar geen slagoffer van die beweerde wandade is opgespoor nie, ondanks vurige pleidooie en speurtogte (soos dié van wyle Mark Minnie en ’n verslaggewer kort voor sy dood).
Geen krieseltjie getuienis is opgediep wat die ‘derde minister’ aan ’n ‘pedofiel-netwerk’ koppel nie, buiten dat hy – met die wete van sy kantoor en gesin! – op ’n militêre helikopter na Bird-eiland is vir die opening van ’n ghwano-kaai.
Ten opsigte van Magnus Malan, is geen aks gevorder nie, om bewyse te vind vir wat in ’n kollektiewe reaksie van weermag generaals tereg as ‘kwaadwillige bespiegelings, omstandigheidsgetuienis en verregaande afleidings’ afgemaak is.
Sleutelkarakters, die seun wat in die onderlyf geskiet sou gewees het, die dokter agter sy wonderbaarlike herstel en die matrone wat omgekoop sou gewees het om hom in die geheim te versorg, het soos skimme verdamp. Jy hoor van hulle, maar jy sien hulle nie.
Sinspelings dat daar agter Minnie se dood iets meer kon skuil as die klaarblyklike – die wanhoopsdaad van ’n verwarde siel – het by wilde raaiery gebly. Geen forensiese of ander ondersoek het iets verdags opgelewer nie.
’n Mens moet dankbaar wees dat dié onheuglike sage nou dood soos ’n mossie is.
Dit is egter verontrustend dat die onreg aan onskuldiges skynbaar dan ook maar net begrawe en vergeet word.
’n Berouvolle apologie vir ’n onverskillige swartsmeerdery, is die minste wat van elke betrokkene verwag kan word.”
ooooo00000ooooo
Brief Nr. 4 |
||||
Skrywer: |
Hennie van Deventer |
|||
Koerante |
Die Burger (DB) |
Volksblad (VB) |
Beeld (B) |
Rapport (R) |
Datums |
2019/02/05 |
2019/02/06 |
|
|
Opskrifte |
DB: “Waar staan Bird Island-ondersoek nou?” |
|||
VB: “Bird Island, wat nou?” |
Brief Nr. 4
Skrywer: Hennie van Deventer
Koerante - Datums
Die Burger (DB) - 2019/02/05
Volksblad (VB) - 2019/02/06
Beeld (B)
Rapport (R)
Opskrifte
- DB: “Waar staan Bird Island-ondersoek nou?”
- VB: “Bird Island, wat nou?”
“As ek die uitgewer van die omstrede boek Die seuns van Bird Island reg verstaan het, is dit geskryf en gepubliseer in die hoop dat dit tot die eerste behoorlike ondersoek na die nare bewerings sal lei.
Allerlei ondersoeke is wel aangekondig. Die Stigting vir Menseregte, die forensiese kenner dr. David Klatzow, ‘n private speurder en, les bes, die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming het ingespring, laasgenoemde reeds op 6 September 2018 op inisiatief van Tafelberg- uitgewers.
Die Bird Island-bohaai oor ‘n beweerde pedofielnetwerk op kabinetsvlak het presies ses maande gelede losgebars. Dit is seker nie onbillik nie om teen nou terugvoering van daardie ondersoekers te vra. Watter ‘nuwe onthullings’ of waterdigte getuienis teen ministers wie se name deur die modder gesleep is, is oopgekrap?
Hoeveel geloofwaardige slagoffers is ‘opgespoor’? Hoekom is alles aan daardie front so doodstil nadat, na bewering, “baie nuwe inligting” in die polisie se hande geplaas is?
Terwyl eenvoudige vrae soos bogenoemde onbeantwoord bly, bly die geldigheid van die boek sterk te bevraagteken. Dan kan ‘n mens net raai wat die raaiselagtige beweegredes vir publikasie van soveel ongetoetste fluisterstories was en waarom dit in die media as heilige waarheid opgevysel is.
Een prikkelende teorie is dat ons met ‘n venynige stukkie feministiese wraak op sterk manlike figure van die verlede te make het. Maar wat van die heer Minnie se onheuglike rol dan? Ander wonder weer of dit net ‘n oorywerige agteroorbuiging van ‘n misplaaste drang tot politieke korrektheid was.
Vir my lyk dit ná ses maande al hoe meer of ‘n gerespekteerde uitgewer, gerekende resensente en media van aansien in ‘n kollektiewe aanval van aansteeklike nagblindheid hul standaarde so verslap het dat hulle deur kwaadwilliges met eie agendas met slap pap in ‘n wip gevang is”.
ooooo00000ooooo
Brief Nr. 5 |
||||
Skrywer: |
Hennie van Deventer |
|||
Koerante |
Die Burger (DB) |
Volksblad (VB) |
Beeld (B) |
Rapport (R) |
Datums |
|
2019/04/10 |
2019/04/09 |
|
Opskrif |
B & VB: “O gits, nou verkrummel ‘Bird Island’” |
Brief Nr. 5
Skrywer: Hennie van Deventer
Koerante - Datums
Die Burger (DB)
Volksblad (VB) - 2019/04/10
Beeld (B) - 2019/04/09
Rapport (R)
Opskrifte
- B & VB: “O gits, nou verkrummel ‘Bird Island’”
“Vier, nee vyf, spykers is nou in die doodkis van die ‘Bird Island’-boek gekap.
In drie onafhanklike ondersoeke is tot dieselfde slotsom gekom: geen bewyse teen die beswadderde oud-ministers nie; ernstige vrae oor die integriteit van die beswadderaars.
Die ondersoeke was deur ‘n senior oud-speurder Wouter de Swart namens die Menseregte-stigting, Jacques Pauw, bobaas- ondersoekende joernalis,in Vrye Weekblad en ervare Derek Watts van die deurdringende M-Net-program ‘Carte Blanche’ – nie liggewigte nie.
Barnard Beukman, redakteur van ‘Beeld’, het die boek bestempel as ‘waarskynlik ‘n laagtepunt in die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf’. Sela.
Die vyfde spyker was, ironies, ‘n ‘eie doel’.
‘Ons het geen konkrete getuienis dat enige van die drie ministers enige slagoffer seksueel aangerand het nie,’ het die selferkende rampokker wyle Mark Minnie vier dae voor publikasie in ‘n e-pos aan sy meelopers geskryf.
Desondanks is blindelings volhard om die versinsels te publiseer. Paar dae later het Minnie homself doodgeskiet nadat hy hom klaarblyklik eers self wou ophang.
Die sogenaamde polisie-ondersoek word nou deur mense agter die boek as rookskerm opgewerp. Maar watter polisieondersoek? Net een moontlike ‘verdagte’ is nog in lewe: Barend du Plessis. In agt maande het niemand van die polisie by hom opgedaag om sy storie te hoor nie.
O gits, Chris (Barlow)-Steyn. O gits, Maryna Lamprect.”
ooooo00000ooooo
Brief Nr. 6 |
||||
Skrywer: |
Hennie van Deventer |
|||
Koerant |
Die Burger (DB) |
Volksblad (VB) |
Beeld (B) |
Rapport (R) |
Datum |
|
|
|
2019/04/14 |
Opskrif |
R: “Vrae en reaksie na berigte oor Bird Island'” |
Brief Nr. 6
Skrywer: Hennie van Deventer
Koerant - Datum
Die Burger (DB)
Volksblad (VB)
Beeld (B)
Rapport (R) - 2019/04/14
Opskrif
- R: “Vrae en reaksie na berigte oor Bird Island'”
“Baie water het in die see geloop in die agt maande sedert Rapport se gewraakte hoofberig onder die banier: ‘Magnus Malan was ’n pedofiel’, ’n berig oor die boek Die seun van Bird Island deur wyle Mark Minnie en Chris Steyn.
Sedertdien is die geloofwaardigheid van die boek in vlamme afgeskiet. Die oud-speurder Wouter de Swartdt (getaak deur die Menseregtestigting), die ondersoekende joernalis Jacques Pauw in Vrye Weekblad en die M-Net-program Carte Blanche (met Derek Watts), het bevind dat die nare bewerings teen Malan en ander oud-ministers, versinsels is.
Skerp vrae is gestel oor die uitgewer, Tafelberg, se koppige volharding om die boek op sulke losse skroewe te publiseer en te bly verdedig, asook oor die integriteit van die twee opportunistiese outeurs.
Mark Minnie, wat homself enkele dae ná die verskyning van die boek doodgeskiet het, se ontreddering moes groot gewees het toe hy verplig was om vier dae voor die verskyning van die boek (luidens Pauw se berig) in ’n E-pos aan die uitgewer en sy mede-outeur te bely: ‘Ons het geen konkrete getuienis dat enige van die drie ministers enige slagoffer seksueel aangerand het nie.’
Die Beeld-redakteur, Barnard Beukman, het Tafelberg Uitgewers in ’n rubriek skerp op die vingers getik met sy verdoemende uitspraak dat die boek ‘waarskynlik ’n laagtepunt in die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf’ verteenwoordig. Hy het volkome gelyk.
Deur die kwaadwillige boek en roekelose media beriggewing is Malan se verswakte weduwee en familie in ’n diepe beproewing gedompel. Die eerbare, onskuldige Barend du Plessis se lewe is op ouderdom 78 ingrypend ontwrig. Die bal is nou vierkant in Rapport se baan. In belang van die waarheid en geregtigheid behoort Rapport sy woorde te sluk en om verskoning te vra – nie net aan die betrokkenes nie, maar ook aan al sy lesers wat gruwelik mislei is.
(Klik vir Rapport se verskoning, ook op Sondag 14 April 2019)
(Klik vir Barnard Beukman se artikel in Beeld)
ooooo00000ooooo
“Die Sondagkoerant ‘Rapport’ se ‘mea culpa’ aan sy lesers wat mislei is, die familie van die ontslape oud-minister Magnus Malan en oud-minister Barend du Plessis oor sy hantering van die beklaenswaardige Bird Island-boek en die nare versinsels oor ‘n georganiseerde gevroetel met bruin seuntjies, verteenwoordig ‘n waterskeidingsoomblik sonder weerga in die treurige sage tot dusver.
In die mediageskiedenis is so ‘n openbare boetedoening in ‘n koerant se hoofartikel uiters seldsaam.
Na agt maande is die Groot Leuen wat die oud-polisieman wat misdadiger geword het, Mark Minnie, en die oud-joernalis Chris Steyn deur daardie skuldbelydenis en onvoorwaardelike apologie nou grootliks ter ruste gelê. Omtrent net die uitgewer, Tafelberg, en die oorlewende skrywer, Chris Steyn, volhard in hul verdediging van die onverdedigbare boek.
Die waarheid haal hulle egter vinnig in.
Uit my binnekennis as koerantredakteur van die mense, die stelsels en die waardes van my era was die aansprake in die boek vir my oombliklik verregaande, absurd en verwerplik. Daarby het ek waarde geheg aan betekenisvolle verklarings soos dié van genl. Constand Viljoen namens die generaals – ‘n stuk getuienis wat deur dese en gene se oorhaastigheid om ou ‘apartheidsministers’ by te kom, tot hul eie nadeel nie na waarde geskat is nie. So is vingers sleg verbrand.
Rapport het op Sondag 5 Augustus 2018 verskyn met die banier-opskrif op sy voorblad: ‘Magnus Malan was ‘n pedofiel’. Op Vrydag 10 Augustus was my eerste brief oor die onderwerp in die drie Afrikaanse dagblaaie onder die opskrif: ‘Sulke beswaddering is betreurenswaardig.’
Daarna het verskeie briewe uit my pen gevolg, o.m. ‘Mnr. X het heelwat vrae om te beantwoord’,’Waar staan die Bird Island-ondersoek nou?’, ‘Vyf spykers in ‘Bird Island’ se doodkis’, en ‘O gits, kyk nou wat gebeur met Bird Island’.
Uit die geweldige reaksie sedert Sondag van mense oor die hele spektrum – veral van die betrokkenes en hul naastes, uit Weermag-geledere en uit die geledere van ‘n vorige geslag Naspersers – blyk waardering vir daardie briewe en hul rol – hoe klein of groot ookal – in die finale diskreditering van Minnie en Steyn se boek. Vir my as oud-redakteur wat op die nastrewing van die waarheid en geregtigheid ‘n hoë premie plaas, was dit ‘n gewetensaak.
My eie reaksie is dat ek goed voel oor wat bereik is.
‘n Diepe dankbaarheid word ervaar dat ek op 78 nog gegun is om my beskeie deeltjie by te dra. Rapport verdien darem ook ‘n kloppie op die skouer vir sy eerlikheid en grootmoedigheid.
Ondanks al die onvriendelike, beledigende en selfs verguisende opmerkings wat oor die afgelope agt maande uit oningeligte oorde teen my opgestapel is, weerhou ek my daarvan om te kraai. Soos Winston Churchill, volstaan ek maar met die woorde: ‘I have not always been wrong’.
Baie van die reaksie was in die vorm van private telefoonoproepe en e-posse. Ek beskou dit as persoonlik en vertroulik. Ander was in die ope op Facebook en ander webbladsye. Daaruit herhaal ek graag ‘n verteenwoordigende seleksie omdat dit lig werp op wat eerbare mense dink. Die kommentare word geredigeer om embarasserende persoonlike opmerkings ietwat te verdoesel of liefs weg te laat.
As lesers van die blog die versameling nietemin negatief as teken van ‘n gebrek aan nederigheid beoordeel, sal dit my spyt. Vir diegene vra ek by voorbaat om verskoning.
Klaar gepraat. Van hier af stel ek dan ‘n paar ander mense aan die woord:
Barend du Plessis: Ek beleef dit as een van die mooiste dinge wat ek in my lewe kon ervaar. Baie dankie.
Genl. Gert Opperman: Jy was deurgaans ‘n steunpilaar; ek salueer jou, persoonlik en namens die Malan-familie!
Frans du Randt: Van meet af het jy sterk standpunt teen die gewraakte boek ingeneem. Talle van my ex-militêre kollegas en ek het groot waardering vir jou volgehoue standpunt teen die besoedeling van ‘n persoon se nalatenskap vir wie ons baie respek gehad het.
Inus Aucamp: Hennie ook n warm klop op die skouer van my. Omdat ek Magnus goed geken en steeds in noue kontak met Barend is, het die sage my ook erg ontstel. Min dinge kan so vernietigend vir iemand se beeld wees. Dankie vir jou vreeslose optrede. Dalk n onredelike gedagte – moes die redakteur nie oorweeg het om te bedank nie?
Guy Robertson: Baie geluk oud-persman Hennie van Deventer vir jou volgehoue druk en aandrang op op die waarheid en verantwoordelike joernalistieke beriggewing oor Bird-eiland. Hou aan met skryf, Hennie – solank jy kan sien. Tula Bula.
Tom Moodie: Dankie vir wat jy gedoen het en geluk met n netjiese brief Sondag in Rapport. Maar wat nou van Tafelberg Uitgewers? Gaan hulle skotvry kom.? In die finale instansie staan hulle tog Pa vir die korrektheid van die feite in die boek. Gaan hulle die ‘ lastereise’ optel?
Faan Hancke: Ware koerantmant in murg en been. Help om die pilare van die demokrasie regop te hou. Welgedaan!
Theresa Papenfus: Wonderlike brief. Baie dankie Hennie! Wat jy gedoen het, was inderdaad dapper. En reg, uiteraard. Mens is skoon verlig.
Marius Britz: Amper lus om te sê: Oom Hennie was toe al die tyd reg, al het sommiges hom verguis! Dit wys mens dat daar geen plaasvervanger vir ervaring en joernalistieke vernuf is nie!
Erdee van Huyssteen: Ja Hennie daar is nie n plaasvervanger vir deurdagte insig nie. Komplimente aan jou.
Kammie Strydom: Mooi Hennie, ek glo aan die Nederlandse gesegde: ‘die leuen hardloop snel , maar die waarheid agterhaal hom wel.’
Peet Simonis: Mense wat geregtigheid en waarheid wil verhef is jou baie dank verskuldig dat jy die lig bly fokus het op die beswaddering wat met Bird Island gepleeg is. Iemand moes die groter wordende hoop getuienis oor die drie manne se onskuld aan die groot klok bly hang en jy het daardie taak op jou geneem. As een van jou oud kollegas bedank ek jou daarvoor – jy laat ons skoner voel oor ons beroep wat deur die publikasie laagtepunt van Bird Island bevuil is.
Ollie Olwagen: Jy het mos van die begin af al die pot akkies ‘n myl ver geruik, Hennie, maar daar was ‘n paar baie slimmes op jou Facebook-blad wat erg ‘kwaad’ was dat ‘n mens die boek kritiseer ‘sonder om dit eers te lees’ (asof dit ‘n mens sou oortuig om die duidelik herkenbare stuk drek te glo). Ek wonder wat sê hulle nou.
Ten slotte: Soos Ollie kan ek ook maar net wonder. Deur sekere mense word sedert Sondag in alle tale geswyg”.
ooooo00000ooooo
Brief Nr. 7 |
||||
Skrywer: |
Hennie van Deventer |
|||
Koerante |
Die Burger (DB) |
Volksblad (VB) |
Beeld (B) |
Rapport (R) |
Datums |
2019/12/05 |
2019/12/05 |
|
|
Opskrifte |
VB: “Maar wat van ‘Bird Island?” |
|||
DB: “Bird Island-gedoente ‘n skande” |
Brief Nr. 7
Skrywer: Hennie van Deventer
Koerante - Datums
Die Burger (DB) - 2019/12/05
Volksblad (VB) - 2019/12/05
Beeld (B)
Rapport (R)
Opskrifte
- VB: “Maar wat van ‘Bird Island?”
- DB: “Bird Island-gedoente ‘n skande”
“Willem Breytenbach is weens seksuele onbehoorlikhede met jong slagoffers nogal vinnig-vinnig in boeie geslaan. ‘n Taamlike kontras met die Bird-Island-gedoente.
Na 16 maande (as my sommetjie reg is) het die ‘ondersoek’ deur ‘n tienstuks polisiemanne onder leiding van ‘n brigadier in die geval nog nie 'n enkele slagoffer, 'n enkele geloofwaadige getuie of eens ‘n halwe saak om daaroor teen iemand op te tree nie, Trouens, na my wete was nog die brigadier, nog een van haar uitgebreide span, nog ‘n ander polisieman of –vrou, tot vandag toe eens by oud-minister Barend du Plessis wat deur die wilde versinsels in Chris Steyn en wyle Mark Minnie se blitsverkoper as enigste verdagte nog in lewe ge-identifiseer is, nie.
Die rede is voor die hand liggend. Natuurlik kon niemand nog ‘n greintjie getuienis opdiep wat in enige hof sal staan en waaroor die polisie enige gronde het om Barend du Plessis oor sy bewegings en alibi’s uit te vra nie.
Dalk tyd vir die media om die polisie te konfronteer oor die abnormale ‘gesloer’ met die Bird Island-ondersoek - as hoegenaamd nog sprake van 'n ondersoek bestaan?
Vra jy vir my, raai ek die polisie het waarskynlik lankal die hele spulletjie in die snippermandjie gevee - daar waar dit voor publikasie al by Tafelberg-uitgewers moes beland het. Die feit word egter agter ‘n rookskerm weggesteek om verleentheid te vermy.
Maar intussen loop 'n eerbare man onskuldig met die smet nog op sy naam en die swaard van ‘die ondersoek duur voort’ oor sy kop, terwyl die uitgewer en die outeurs (Chris Steyn en die boedel van wyle Mark Minnie) die kontant inhark en die boek nog oral op die rak is – ook by biblioteke wereldwyd. Wat 'n growwe onreg.
Wat ‘n skande skande vir alle betrokkenes”.
ooooo00000ooooo
Brief Nr. 8 |
||||
Skrywer: |
Hennie van Deventer |
|||
Koerante |
Die Burger (DB) |
Volksblad (VB) |
Beeld (B) |
Rapport (R) |
Datums |
2020/03/10 |
2020/03/05 |
|
|
Opskrifte |
VB: “Boek los tsoenami van skade” |
|||
DB: “Skade is onberekenbaar” |
Brief Nr. 8
Skrywer: Hennie van Deventer
Koerante - Datums
Die Burger (DB) - 2020/03/10
Volksblad (VB) - 2020/03/05
Beeld (B)
Rapport (R)
Opskrifte
- VB: “Boek los tsoenami van skade”
- DB: “Skade is onberekenbaar”
“Ek verwys die uitgewer Tafelberg graag na die verskoning wat die Sondagkoerant Rapport oor sy dwalinge met die Bird Island-sage op 14 April 2019 prominent gepubliseer het.
‘Ons het ‘n fout gemaak,’ het die koerant ruiterlik erken. Sy verskoning was inklusief en berouvol. Dit het eksplisiet ook lesers en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley ingesluit.
Daarteenoor is die apologie van die primêre sondaars (saam met die opportunistiese outeurs) flou, onvolledig en ontoereikend.
Die uitgewers erken dat sy ‘gewraakte stellings nie onafhanklik geveriëer (kon) word nie.’ Maar in sy apologie - duidelik versigtig regstegnies geformuleer - word in dieselfde asem sy verskoning ‘net beperk tot mnr. Du Plessis’.
Onmiddelllik ontstaan die vraag: kon die ‘gewraakte stellings’ rakende Malan en Wiley wel dan op enige wyse ‘onafhanklik geveriëer’ word? Indien wel, word dit deksels goed verbloem.
Of sou die ‘verifikasie’ steun op slegs die vae bewerings van die naamlose Mnr. X wat een dag voorbladnuus was en die volgende soos ‘n grootspeld verdwyn het? Hoeveel beëdigde verklarings van sleutelmense verlang NB-uitgewers en Tafelberg dan nog om hulle van hul mistasting te oortuig?
Maar natuurlik: anders as Du Pessis is Malan en Wiley nie meer in lewe nie.
Voorts: ag die uitgewer die misleiding van derduisende lesers van so min betekenis dat hy hulle, anders as sy susterpublikasie Rapport, in sy oomblik van berou skoon vergeet?
Die onttrekking van onverkoopte eksemplare is ‘n gebaar – ‘n nogal sterk simboliese gebaar van skuldbekentenis – maar op die keper is dit in geldwaarde uiters gering teenoor die miljoene wat internasionaal ingehark is.
Op biblioteekrakke wêrelwyd pryk die boek nog. Op die internet leef miljoene verguisende woorde. Wat gaan NB-uitgewers en Tafelberg doen om hierdie tsoenami van skade te beperk?
ooooo00000ooooo