Artikel in BEELD koerant
November 2018

Geloofwaardigheid erge leemte in 'Bird Island'

(Geskryf deur Barnard Beukman – Redakteur van Beeld)

(Click here for the original article in English)



Een van die nuusgebeure wat die afgelope week aandag getrek het, is die Stigting van Menseregte se private ondersoek na bewering in die boek Die seuns van Bird Island.

Onderliggend is die kwessie van geloofwaardigheid – die hoeksteen van enige media en uigewery.

Anders as sommige ander media kon ons by Beeld net nooit opgewonde raak oor die helel Bird-eiland-saga nie. Die ondersoekverslag wat nou uit is (gaan lees dit volleig op Netwerk24) vergroot net vraagteken oor die geloofwaardigheid van sommige aspekte van die boek.

Die laaste woord oor die kwessie is sekerlik nog nie gespreek nie. 'n Polisieondersoek is nog aan die gang. Maar die private ondersoek se bevindings beweeg 'n mens om maar hardop te sê wat jy reeds besef het: Die boek verteenwoordig waarskynlik 'n laagtepunt in die Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse) uitgewersbedryf.

Net om daardeur te lees het basiese vrae laat ontstaan. En oor die skrywers se benadering was daar van die begin af verskeie geloofwaardigheidsprobleme. Dié oor die voormalige polisiebeampte wyle Mark Minnie word in die jongste ondersoek bevestig. Die geloofwaardigheid van Chris Steyn, die ander skrywer, word ook nie juis bevorder deur haar reaksie op die bevinding dat daar geen bewye gevind is dat Barend du Plessis en Magnus Malan aandadig aan die bewerings was nie: “Hy (die ondersoeker) kon ook nie bewys dat hulle nié deel was nie?”

Van wanneer af is dit 'n regsbeginsel of 'n vertrekpunt van enige feitlike raamwerk? Is dit nou die nuwe mantra?

Minnie se bydrae tot die boek is grootliks gebou om inligting van een karakter wat die twee ministers se foto's aan hom sou uitwys as betrokke by die misbruik van seuns.

Die private ondersoeker Wouter de Swardt het hoe opgespoor en die boek aan hom gewys. Hy ontken dit en omtrent alles wat Minnie aan hom toedig. Hy noem dat hy nou ook verstaan waarom Minnie weggeskram het om, soos beloof, aan hom 'n boek te gee.

Die vloedgolf van ongesifte inligting wat die aanlyn omgewing en groter vryheid deur private individue meegebring het, plaas 'n groter onus op uitgewers en die media om die geloofwaardigheid van stof wat hulle plaas deeglik te evalueer. En om hul eie geloofwaardigheid te beskerm.

Natuurlik het ministers in die vorige bedeling ruimte vir magsmisbruik gehad. Terloops, hoe het hulle gaan visvang en jag op staatskoste? Dit sou waarskynlik moontlik wees om meer dinge ongesiens aan te vang.

Maar as diegene aan die ontvangkant van die boek meen hul regte is geskend, het hulle waarskynlik 'n saak. Ongelukkig ten koste van die gedrukte woord se geloofwaardigheid.

Beukman is redakteur van Beeld

oooooOOOOOooooo